1993
Ek het hom ontmoet in 1993 by die Burger se destydse Winterskool. Ek wetie hoe nie. Ek wetie wanne nie. Ek wetie. Ek weet hy was ‘n vriendelike seun en vrymoedig ook met ‘n stukkie gesels. En so raak ons vrinne in Winter 1993 en ons hou kontak. Daai tyd nog per landlyn en deur die pos – ja, ons skryf briewe en bly in kontak.
In elk geval, ek soek toe ‘n metgesel vir my Matriekafskeid by die Engelse Model C meisieskool waar my ouers my ingeskryf het om standerds 8 tot 10 te voltooi. Die skole was ‘oop’ vir almal. Voorlopertjie.
Ek vra toe die ander outjie … en besef amper onmiddellik dis moontlik ‘n fout. Hy like my, ek like hom nie soos hy my like nie. Op een of ander manier trek ek my uitnodiging terug. Ja, dit was lelik. Ek het baie sleg gevoel daaroor vir ‘n baie lang tyd. Die ou was ontsteld, natuurlik, hy het my regtig ge-‘like’ – ek het regtig sleg gevoel, maar dit was die regte besluit vir die tyd. Hy is gelukkig getroud nou met ‘n lieflike vrou en pragtige, gesonde kinders.
Nou het ek weer nie meer ‘n partner nie. My Pa werk daai tyd in Caledon. Ek kry ‘n gedagte en tel die telefoon op. Ek bel Caledon toe en kry vir my die beste mens wat ek kon kry vir ‘n Matrieksafskeidpartner. Ek reël die lift met my Pa. Hy kom sommer heel naweek. En is daar planne vir die naweek???
Vrydag – hy kom deur met my Pa. Dan gaan ons movies toe en uiteet of iets met die ander mense wat die Saterdagaand saam met ons by die tafel gaan sit. Die ouens ken mos nie mekaar nie. Dis ‘n meisieskool.
Saterdag – Tyger Valley vir my hare. My hare word ‘relax’ … terwyl die hairdresser die relaxer aansmeer bring my partner mense wat hy ken en raak geloop het in die hairdresser om my te ontmoet … beste prentjie ooit. Ek hoop jy weet hoe lyk en ruik relaxer. My diepste uur. Ek lag nou nog. Hy bring weer mense terwyl ek met rollers in my hare sit.
My rok – die ‘dressmaker’ het haar eie viskopkerrie aangevang met my rok. Ek was ontsteld. Ek het gelyk soos ‘n perske ‘cupcake’. Ek was op en kwaad en teleurgesteld, maar los ma. Al an.
Die Matriekafskeid.
Die ‘introduction’. Elke meisiekind moes haar metgesels aan die hoof, onderhoof, hoofdogter en onderhoofdogter voorstel. Hy vra my toe of dit in Engels moet gebeur want hy is die Afrikaansste Afrikaansmens. Ek sê ja. Hy sê dan moet jy ma praat. Ek sê okay.
Arrival. Ons word afgelaai. Amper laaste. Ek maak my reg om my metgesel voor te stel. Ek haal nog asem, toe praat my partner al. En net daar weet ek die gaan ‘n lekke aand wees. Ek moes net lag.
My skoene was stukkend gedans. Ek het lekker gelag. Ons tafel was ‘n lekkerte. Baie gelag. My skoene was stukkend gedans. Ek was dankbaar vir die keuse.
2007
Ek kuier bietjie in Londen. Hy bly daar vir jare. Ek laat weet my Matriekafskeidpartner. Die blyste is hy om van my te hoor. Ek vat my niggie en haar man saam. Die bouncer by die deur weet presies na wie ek vra en hy vat my reguit na my tjommie toe. Wat ‘n lekker reunion. My niggie en haar man kuier lekker saam. Lekkertes. Verblydend as mens warm ontvang word. Lekker om te sien en te voel hoe jare wegval en mens tel net weer die connection van vriendskap op en die verstaan en gesels lekke aan en kuier lekke saam.
2019
Sy Moeder sterf af. Ek kan ongelukkig nie by die begrafnis wees nie. ‘n Ander vriendin sing in Stellenbosch en nooi hom. SY laat weet my van ‘n verassing vir my. Herontmoeting. Dit was goed. Jare val weer weg. Vriendskap is terug. Lewe het gebeur. Seer lê vlak. Hartseer lê vlak. Vriendskap. Gesels. Klink ‘n glasie. Gesels. Sien. Neem in. Luister. Deel bietjie van die lewe en ouer word en grootword. My hartseer lê ook vlak vir dit wat hy deel. Hy en sy vroulief se hartseer. Dit wat gesê word en dit wat nie gesê word nie. Ek is bly en dankbaar dat mens nog sulke vriende kan hê, mense waar mens kan praat, vrae vra, eerlik wees. Mense wat wys dat hulle voel en praat daaroor. Mense wat maklik hul lewe met jou deel. Baie het gebeur. Daar was seer en hartseer in ons albei se lewens. Daar is ook lig. Dit was Woensdagaand. Saterdag kry ons weer ‘n geleentheid om te kuier. Bietjie wyn saam te proe en nog geselse te gesels. Meer insig. Meer hartseer te sien en baie lagge gelag. Ek is dankbaar vir die geleentheid. Dit was lekker. Dit was connection. Dit was vriendskap. Dit is steeds vriendskap. Dit was ook misinterpreteer. ‘n Interessante ondervinding.
Die wyn was lekker. Spookfontein en Creation in die Hemel-en-Aarde Vallei. Die panoramas was asembenemend. Dit was ‘n lekker kuier met hom en sy suster. Interessante mense ontmoet. Lekker geselse gesels en baie geleer.
My hart is seer, hartseer, dankbaar en bly.
Ons is gemaak vir connection. Die geleentheid vir die tweede kuier was nie regtig beplan nie, dit het net gebeur (van my uitkykpunt af). Maar, dit was ook seker beplan … êrens anders. Hoër op.
Nou.
Ek dink ek het hom vir ‘n moment bietjie meer ge-like as net ‘n pel in 1993. Daai tyd was dit genoem ‘n ‘crush’. Nou glimlag ek daaroor. Goeie ou dae. Kontak was behou met moeite – landlyne en ‘snail mail’. Die crush het verdwyn, vriendskap het gebly. Baie ander crushes, ouens, casuals en dinge het gebeur. Vriendskap. Gesels. Maak moeite. Intensionele kuiers. Intensionele beleggings in mense. Hoe anders maak mens vriende?
Dankie mater vir jou tyd, jou geselse en jou moeite.
Ek dink aan jou en jou vroulief en jou suster. Jy weet hoekom. In gebed. Met baie liefde. In vriendskap.
Die besoek was strategies. Op ‘n oomblik in my lewe waar die reminder ook nodig was. Ek hoop die kuier was vir jou ten minste ‘uplifting’.