Smeltkroes – #Afrikaans

Ek moet jou bietjie iets vertel … Die lewe is mooi. Weet jy dit?

Ek het blomme gekry. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd … twee bosse. Een vir my verjaarsdag – by ‘n vriendin. Daar was een sonneblom in, my gunsteling, die res was ‘n pragtige verskeidenheid. Die tweede bos was gestuur deur ‘n kêrel, ‘n ‘suitor’ noem mens hom sekerlik. Hy het gevra wat my gunsteling blomme was en toe stuur hy die wat hy kon kry.

Blomme. Blomme. Blomme. Dis lekker om hulle bietjie te kry in plaas daarvan om hulle self te koop – ek doen dit baie maklik. Blomme, soos die see, maak my rustig. Dis mooi. Dis kompleks. Kuns. Natuur. Natuurkuns. Soos berge. En bome. Maak my rustig.

Iets is besig om te gebeur in hierdie tyd. My hart was vir baie lank ongevoelig. My hart moet nou weer begin voel en dink. Mens moet besluite maak. En interessant genoeg is dit ‘n vermenging van Engels en Afrikaans – hierdie besluite, hierdie gedagtes, hoe dit uitredeneer woord, hoe woorde geplaas word, hoe konsepte bymekaar gemaak en uitmekaar gehaal word. Passie moet êrens geroer en losgelaat word – veral my passie vir die mens, konneksie, die dinge wat my hart roer, laat bokspring, laat glimlag.

Voor daar verkeerde gedagtes begin … daar is veel wat oordink moet word. Die passie is vir dit wat reg is wat my beker laat oorloop en ook vir dit wat verkeerd is, wat ook my beker laat oorloop … vreugde en onregte.

Hierdie jaar is ‘n smeltkroes jaar. Die hoogste temperature is bereik sodat ek dit kan bereik. Sodat die slapende ontwaak. Sodat ek kan brand, want daar is nog baie wat ek moet doen. Brandpunt. Vat jou mat, staan op en loop. Jou werk begin nou eers. Jou roeping is duidelik hoorbaar. Berei jouself voor. Die wagkamer is nie vir rus nie … dis vir voorbereiding.

Dinge gebeur. Mense stem nie saam nie, ander juig toe. Mense is fassinerend. Rigiede denke is soos mure waarmee jy jouself inhok. Afbrekende kritiek veroorsaak afgebrande brûe. Geen verhouding. Wees die skakel. Bou brûe. Gee drukkies. Reik uit. Omarm mekaar met liefde, warmte, gedagtes, gebede. Geniet dit wat dieselfde is en dit wat verskil. Ons weet daar is reëls. Ons weet daar is grense. Dit beteken nie ons kan nie barmhartig wees nie.

Die vure is gestook. Die Smeltkroes is in volle vlam! Hier is ek. In proses. Oppad.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s