Groot woorde die … ek raak aan’t gesels met ‘n pel van my gister oor families en opinies. Ons is gebore in dieselfde plek, in dieselfde hospitaal (verskillende kleur vlerke) om en by ‘n week uit mekaar.
Ouers is om en by dieselfde ouderdom, dieselfde era, dieselfde kerkgenootskap, ens.
Ons gesels toe bietjie oor hoe dit gaan met die lug van opinies in ons onderskeie families. ‘n Heeltemaal interessante gesprek. Die sentiment is blykbaar dieselfde in die families, veral wanneer dit kom by die verskil in opinie met die ouer garde en soms ook ons ouers. Die manier van verskil is ook vergelykbaar.
Ek vertel haar toe dat my Ma so paar dae terug gesê het ek ontbloot my siel in die blog. Ek stem natuurlik nie saam nie. My siel is nog heeltemaal toe binne in die se kokon van blomblare. (Ek wonder of my Ma gaan kommentaar lewer. Hiehiehie!) Elke mens het soveel fasette en lae en ek dink as ek my siel gaan ontbloot gaan my Ma my goed indoen en Zorro! LMK! In elk geval, die punt is dat ek en my Ma verskil oor die wat in die publiek mag verskyn en dit wat nie moet nie. Ons het al heel paar keer soortgelyke meningsverskille gehad oor wat ek deel met vriende en wat nie. Ons vriendskappe verskil ook. My Ma het 4 susters, waarvan 1 haar tweelingsuster, en 1 broer. Ek het 2 broers. Ek het nie ‘n biologiese suster gehad met wie ek grootgeword het nie, so ek moes susters vind in vriendinne. Hoe skep mens susterverhoudinge? Jy doen lewe met mense. Jy deel, jy leef, jy beleef saam met die mense vir wie jy kies en wat jy terugkies. En in die proses kry mens seer en jy leer … harde seer lesse, maar jy word ook verras met die verloop van die lewe.

Ek het al baie ‘susters’ langs die pad ‘verloor’ omdat ek of hulle ophou kies het, vir verskeie redes. Die verloop van die lewe. Dit was seer, maar mens leer. Afskeid begin lank voor die besluit om paaie te skei. Om uit te vind jou suster was eintlik net ‘n goeie kennis. Ook so met broers, maar ek het twee broers gehad, so ek het nie so baie broers gesoek nie … maar broers het baie ‘n suster gesoek. Ek het baie van hulle. En as mens dit nie reg hanteer nie verloor mens hulle ook, vir ander redes. Maar nou ja – daai is ‘n gesprek vir ‘n ander dag.
Vir vandag … opinies in families. Dis vir my altyd interessant dat daar baie keer verwag word dat ons dieselfde opinies moet hê omdat ons deel van dieselfde familie is. Ek dink juis dis die ideale plek vir leer hoe om konflik te hanteer, meningsverskille met respek te hê en liefde te laat groei te midde van woordewisselings. Dis die plek waar ons karakter gebou word, waar ons leer om te luister en waar ons leer om gesprekke te voer – van yskoud na vuurwarm. ‘n Plek waar mens jou foute kan herken en verwag dat jou mense die slaggate in jou argumente uitwys en vra hoekom jy dink soos jy dink. Die plek waar mens grppe vertel en leer lekker lag en gemaklik raak met uit jou nersderm uit lag … tot die trane loop en snot spat … dit gebeur, moenie dit misken nie. ‘n Veilige hawe van lief en leed. Die hawe waar mens so opgevul word dat mens nooit dit twyfel nie. Die hawe waarnatoe jy terugkeer wanneer jy begin leegloop sodat net die atmosfeer bydra tot jou inhoud …
ongeag van jou opinie …
En wanneer ons opinies verskil in ons familie? Wat dan?
Kruisverhoor? Swaardgeveg? Konstruktiewe gesels? Inligting uitruil? Stilte? Onderdrukking? Verkenning?
Dis mos maar een van die plekke waar mens se bors die warmste kan raak, want mens het verwagtinge van jou eie mense. Dan nie?
In alle eerlikheid, ek het hierdie saak nog nie onder die knie gekry nie. Wat ek wel geleer het is dat ek bereid is om die gesprek te hê. En dat ek soms wil dink oor die saak voor ek terugkom. Ek het ‘n kleintjiedood in ‘n gestryery – mens verloor mens se sinne en sê goed waaroor jy later spyt is en dan is die skade aangerig en mens kan nie die woorde terugtrek nie. Die letsel is daar. ‘n Klein krakie of ‘n grote. Dit sit nie lekker nie. Ek het ook geleer dat as reprek en eer nie by die gespreksafel bedien word nie ek die tafel verlaat tot dit bedien word. Ek het ook geleer dat mense se reaksies slegs tot hulleself spreek en die woorde wat hulle gebruik ook na binne wys. En of / hoe mense herstel van konflik reflekteer op die mens.
Een van die grootste lesse is dat ek slegs myself kan beheer. Daar is niks wat ek kan doen aan iemand anders se gedrag of woorde nie. My woorde kies ek en ek moet dink aan die gevolge van wat ek sê en hoe ek dit sê. Ons karakter word reflekteer in die woorde wat ons gebruik. So een van my grootste vrae aan myself is, wat wil ek hê moet die uiteinde wees van die gesprek?
Binne familie kry mens die geleentheid om verskillende generasies te beleef en leer ken. En as jy vra leer jy soveel meer. Vrae oor stories uit kinderdae, kuier met die ou mense, vra bietjie oor Oupa en Ouma se grootwordjare en ook Ma en Pa s’n … ooms, tantes, ouer en jonger niggies en neefs. Skandes in die familie, kampioene in die familie, prestasies in die familie, geheime? Ek het baie geleer by my Oupa en my Oumas … stories en hoe hulle omgegaan het met my en my niggies en neefs, hulle kinders, familie, vriende, bedelaars, armes, rykes, mense van verskillende rasse? En ek het gevra, ek vra steeds. Dit gee perspektief oor hoekom sommige reaksies en gesprekke soveel anders is van die wat ek sou hê. Soms moet ek verduidelik hoekom ek dink soos ek dink. Sulke geselse is nie juis die maklikste nie.
Dis vir my belangrik dat ek perspektief kry, ek verloor dit vinnig. Ek moet myself herinner om te luister. (Ek het juis vandag gehoor ek is nie ‘n goeie luisteraar nie. Iets om aan te werk. Dit was nogals ‘n einatjie – ek het gedink ek maak vordering. Ma dis immers die probleem … EK het gedink. Tyd vir stilte. Oordenking) Ek moet luister om te luister. Soos ek moet lief wees omdat ek lief is. Geen rede nie. Luister vir luister. Mens leer baie.
Die een ding wat ek altyd wil onthou wanneer ek in gesprek is met ‘n familielid is die volgende: daar is dinge wat ons in gemeen het, so daar is ‘n kernwrotelstelsel wat ons deel. Daar is ook wortels wat hul voeding van ander bronne kry omdat ons nie in dieselfde huise grootgeword het nie, ons beweeg ook nie in dieselfde ruimte nie, ons is nie klone van mekaar nie, ons beleef is anders want ons het ook verskillende families van ‘n ander kant af en ons het verskillende vriende, is verskillende ouderdomme, sien dinge verskillend. En ook, ons is lief vir mekaar. Hoop ek. 😉
Familie.
My hart en my krank.
Ma ek is lief vi elke een van hulle.
Praat met mekaar geliefdes. Verskil of nie. Wees lief vir mekaar.
Laat dit juig!
