Diep binne in my hart is daar ‘n skuilte net vir jou. Wie weet hoe jy daarin gekom het, ingeklim het? En nou moet ek jou op ‘n manier daaruit skryf. Dis die maklikste manier vir my om dit te doen. Die woorde vloei dan hou dit op dan vloei dit weer tot ek dit stop. Dan droog dit op.
Diep binne in my hart is daar plek vir baie liefde vir baie mense … baie sit al jare daar en baie het al stukkies weggeskilfer. Dis hartseer en maak seer. Soms baie onnodig. En tog raak my liefde vir mense nie minder nie. Om nuwes te leer ken verskaf my baie plesier … of ons vriende raak of nie … dis lekker om nog ‘n komplekse wese te leer ken en om te gesels en dinge mee te maak – werk of kerk, gier of plesier … ek leer. Soms is dit nie lekker nie, maar dit is ook tog. Vir my.
Diep binne in my is ‘n stem wat praat wat saggies fluister en soms kliphard raas. Wat waarsku en aanmoedig en mooi praat en skree, wanneer nodig. Ek luister nie altyd nie. Dit laat my in die moeilikheid beland. Die tipe moeilikheid waarin ek nou sit. Die oorlog tussen my kop en my hart en my lyf en my siel. Dis nou al kalmer. Elke dag nader aan waar ek wil wees.
Teen die tyd toe ek sê hoe ek voel het ek reeds geweet … Wat wonder jy … weet net ek het geweet. Dis al, dis genoeg.
Ek is nogals moeg. Moeg van dit. Die alewige soeke. Die gebede. Die geselse. Die bekendstellings. En ek het nie eens gesoek nie, want dis nie my hoe nie. En toe val ek. Knieë nerf af. En nou? Nou lag ek maar net. Die baklei gaan nie oor die liefde nie, dit gaan oor teleurstelling. Bleh.
Jare gelede het ek my knieë nerwe af geval in ‘n hartsaak. Ek lag nou nog. Dit was so mooi en so respekvol. Ek was jonk. Dit was die soort saak waar ek behoorlik rooiwarm raak in die teenwoordigheid. Ons het albei geweet. Dit was soos ‘n geheime speletjie van respek. ‘n Dans. ‘n Vriendskapsbesluit. Ek het soveel waardering daarvoor. En soveel liefde. Steeds.
Net liefde. Ek mis ons koffies en kaaskoek en Hunter’s Dry. Ek mis daai blits in jou oë en die veilige gevoel. Die roomkleurige trui en die drukkies en lagterye. Net as ‘n vriend het jy my so veilig laat voel. Dankie vir jou. Ek waardeer dit.
Lyster die lesse.
