gister. bome. asem.

toe ek deur die tuin loop by Vergelegen besef ek daar is min dinge wat my daaraan laat dink hoe klein en jonk ek is soos ‘n klompie ou, groot, majestieuse bome wat bo-oor my troon, afkyk na my en my laat asem haal … wat geskiedenis gesien het van mense wat onthou is en mense wat vergeet is. getuies is van onregte en reg wat geskied het. as hulle maar net kon praat. die stil reuse wat net daar staan en doen wat hulle moet doen. groei. skadu gee.

ek sien blare, takke, boombas … hier en daar die golf van ‘n wortel maar die dinge gebeur mos maar onder die grond. wat het ek indie skool geleer? bywortelstelsels en penwortelstelsels. bladwisselend. bladhoudend. hulle toring hoof bo my uit. en ek voel beskermd, verskuild, weg van die seer wat die mens kan toedien.

ek kyk na die krismisrose wat nou slaap voor hulle weer in prag en praal die nuwe seisoen groet. ek kyk na die blare wat afval van die baldwisselende bome … saggies op die grasperke wat so mooi versorg word … blare word opgehark. die seringboom laat my dink aan die bome in ‘Lord of the Rings’ … ek voel weggevoer na ‘n ander wêreld waar dit veilig is teen geweld. dis groen en bruin om my en hier en daar oranje, bruin en geel blare. ek dink aan ‘n swaaiende bed tussen die mooie mooi. dit reën. ek gee nie om nie. dis lekker. dis mooi. dis beskut. ek wens dit was nie so koud nie. ek wil my skoene uittrek en die nat en gras en blare voel onder my voete en tussen my tone.

die rose in die roostuin ruik beter as die beste parfuum. dit laat my dink dat ek my gunsteling parfuum nie meer op die mark is nie en hoe hartseer ek daai tyd daaroor was … Stella McCartney se Rose Absolut. alles gaan verby. een van die dinge wat ons moet leer. die mooi en die lelik. die maklik en die swaar. die hartseer en die blydskap. ons leef in die tyd tussenin. ek kyk weer na die bome wat al vir honderde jare so staan. ek hoop hulle bly daar staan vir nog honderde jare. haal asem. haal net asem. ek ruik die reën en die plante en die nat grond. ek wil nog langer daar bly. deel word daarvan. ek wil dit deel. maar ek sê niks. dis te … heilig.

ek wil alleen daar loop op ‘n grys dag. êrens in my agterkop is daar ‘n stemmetjie wat sê moenie … dis nie veilig nie. ek haat daai stemmetjie. dit laat my dink aan iets wat ‘n vriendin my vertel het die afgelope week. verkragting. alles word skielik sommer net lelik. ek wil huil. my hart voel asof dit gedruk word. ek makeer asem. ek moet diep asem haal. die trane wil loop. hoe kan ek help. hoe kan ek ‘n ander kind / vrou / mens veilig hou. teen dit. teen ‘hulle’. teen omstandighede. teen … sug. ek kyk weer op. die bome. rojaal. hulle staan daar en ek wonder wat het hulle alles gesien en of hulle nie miskien wou help nie. ek weet … dis bome. ek projekteer. ek wens ek kon iets doen. fisies. psigies. emosioneel. ek wens ek het geweet voor dit gebeur sodat ek die gedagte kon stop … smoor sodra dit posvat …

dit was ek en die bome en die rose. hulle het my omvou omsingel beskerm beskutte gehou. ek kon hulle inasem en onder my voete voel en hulle sien en bekyk en inneem. ek. die geur. die kleur. tekstuur. daar was ook geloof, hoop en liefde. sigbaar. mooi. sag. vetroetelend. verhouding. vriendskap. toewyding. respek. geduld. verskille. koffie. speletjies. fladdering. geselsies. inligting. uitdrukking. genade. wolke. berge. lig. lug. die son. die reën. dankbaarheid.

kyk op. haal asem. voel. waardeer. behou. maak tyd. bly gegrond.

daar is baie mooi rondom jou.

‘n Eikeboom by Vergelegen
foto: karisMatiek

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s