Besluite.

Jy weet … wanneer mens ‘n besluit moet maak en jy weet wat die regte besluit is maar jy wil nie daai besluit maak nie, want …
Wel, verskeie redes. Op die oomblik voel dit of ek gaan verloor aan een kant en wen aan die ander kant.
Dit was altyd vir my moeilik om besluite te neem oor mense wat ek minder van wil sien of uit my lewe wil hou omdat hulle nie vir my siel goed is nie. Ek was mos daai mens (en is soms bietjie nog, ek vang myself so af en toe) wat gedink het sy moet almal help. Die proses om dit af te leer is nogals ‘n bevrydende sielswroeging. Die ironie.

Die eerste nee is nie maklik nie. Dit vat tyd. Dit word makliker. Vryheid en vrede word beter verstaan en die integrale belangrikheid daarvan word ‘n onlosmaakbaie deel van mens se menswees. Nee. NEE. nee. Nee, dankie. Met nog so paar diplomatiese woorde en soms ondiplomatiese, reguit, kras woorde … afhangende van die situasie, die mens, die intensie. Nee. Net nee. Dit moet nou stop. Ophou. Ek wil jou vriend wees, maar nie as die trant van gesprek voortgaan nie. Of ek wil net nie meer nie. Sommige kere wil ek nie eens meer praat nie. As ek nog praat is daar darem ‘n sprankie hoop van ‘n tipe verhouding.

Dit vat tyd om mense te leer ken. Regtig te leer ken. Die dinge waarmee mens kan saamleef. Die geheime wat mens kan / wil hou. Die wat mens nie kan / wil hou nie. Gewete. Nee. Elke besluit het gevolge. Elke liewe ene. Sal ek kan staan vir die besluite wat ek gemaak het. Die enigstes wat opkom wanneer ek die vraag vra is die wat mense kan / kon / sal seermaak.

Haal diep asem. Sug.

Ek het een keer ‘n ou afgesê via sms. Ek weet. Dis horribaal. Ek wou hom regtig nooit weer sien nie. Die goed wat hy gedoen het, het my siel siek gemaak. Ek het lank genoeg / te lank uitgehou. En dit vir wat? Hy het my vir maande daarna af en toe probeer kontak. Blok blok blok … ek is nie spyt nie. Ek het regtig vrede oor daardie besluit. En dit sê baie. ‘n Besluit wat ek gemaak het om seker te maak die kwaliteit van my lewe bly waar ek dit wil hê. Sonder geweld. Sonder alkoholisme. Sonder onverantwoordelikheid voor kinders (veral). Dit bly nog by my … die proses waardeur ek gegaan het voor ek die boodskap gestuur het. Die twee weke voor dit. Die pel van my wat vir my gesê het hy kan in my oë en aan my houding sien die saak gaan nie meer lank hou nie … tyd.
Nog ‘n sug. Die storie laat my altyd sug. Ek moes vroeër met die knaap opgebreek het daai tyd.
Maar nou ja.

Elke besluit gee rigting aan jou lewe. Wat ookal die rigting is. Hiernatoe soontoe weg terug na iemand / mense toe weg van hulle. Na nuwe ondervindings toe of na die herhaling van oues want vrees. Hou mens gevou in ‘n kokon of laat mens groei en ontwikkel. Of die besluit om te bly, bly staan, stop.

Laat ek maar nog bietjie gaan dink oor die besluite wat ek moet maak en hoe ek dit gaan kommunikeer. Veral met die’s wat nou skaars beskikbaar is vir ‘n in persoon vergaderinkie. Want hoe anders kommunikeer mens groot besluite? Wel, ek verkies dit so. Ek wil jou in die kyk.

Maak die besluit wat vir jou vrede gee …

Forest path
Image by Radosław Cieśla from Pixabay

3 thoughts on “Besluite.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s