Penne. My Penne.

Penne. My Penne.
Foto geneem deur karisMatiek

Hoekom penne?
Ek wonder self.
Mens skryf nie eens meer baie nie.
Maar ek koop nog steeds penne.
Want soms gebruik ek hulle tog.
Intensioneel.
Want skryf, vir my, is terapeuties.
So lekker om dinge uit te skryf.
Soms het ek nodig om mense uit my hart te skryf.
Dit help om dit fisies te doen.
Soms moet ek net ‘n brief skryf wat ek nooit gaan pos nie.
Vir verskeie redes.
Dit help met die verwerking van interessante situasies.
En dan is daar plekke waar ek nodig het om met ‘n pen te skryf, want dit moet outentiek wees. Die waarheid. Ekke wees wat dit geskryf en afgeteken het. Lyk my ek gaan nog penne moet koop vir die se rede. Ek hou van mooi penne. Ek hou ook van penne wat lekker skryf. As dit mooi is en lekker skryf is dit ‘n bonus. Anders gebruik ek sommer net ‘n oranje Bic Fine pen, want dit stel my nooit teleur nie.

Kan jy onthou waaroor jy al alles geskryf het met ‘n pen?
Behalwe skoolwerk.
Briewe? Liefdesbriewe? Brief aan ‘n penvriend?
Ek het 3 penvriende gehad. Ek het in standerd 5 aan hulle begin skryf. Ek het een verloor na so paar briewe – omstadighede in sy tuisland, ‘n ander verloor na Matriek en ek en die derde een het mekaar nog nooit ontmoet nie maar is steeds in kontak … Whatsapp, Facebook en e-pos. Standerd 5 was in 1988. So ons deel al gebeure in ons lewens vir meer as 30 jaar. Wanneer ek weer Duitsland toe gaan is dit ‘n definitiewe stop. Verpligtend. Of ons sal mekaar ontmoet. Maar verkieslik na haar toe om haar gesin te ontmoet. Met penne die vriendskap aan die gang gehou. En natuurlik ook die mooi papier. Daai tyd het ek elke paragraaf met ‘n verskillende kleur pen geskryf. Pienk, pers, ligblou, oranje, … en so af en toe gewone swart en blou. Ek het darem uitgesien na daai briewe!!!

Ek was maar altyd ‘n briefskrywer op skool. Baie verhoudings / vriendskappe aan die gang gehou so. Tot in die vroeë 2000’s het ek nog briewe geskryf aan ‘n kêrel wat op ‘n skip gewerk het. Een van daai dinge. Die een was nie so opwindend nie. Hy is ook al lankal nie meer my outjie nie.

Ek het al briewe geskryf wat ek nou wens ek kon terugvat. Eerder omdat ek net voel ek het ‘n klomp snert kwytgeraak of … wel … nee. Net nee. Hoekom het jy die brief ooit geskryf, meisiekinta?

Dan lag ek sommer vir die snert wat ek sekerlik al kwytgeraak het.

Die probleem is sodra ek die woorde skryf dan is dit uit my kop uit. Dit moet eers teruggelees of vertel word voordat ek dit weer onthou sodat mens dit kan bespreek. Ai.

Terug by die pen. Of steeds by die pen. Of eerder ek en my versameling van penne. Moenie dat die foto jou bluf nie. Dis maar net bietjie van die klompe. Ek het al soveel keer gesif. Ek moet eerder net weer meer skryf. Dis goeie oefening vir my hande. Skryf. Daar is ‘n paar dinge waaroor ek moet skryf. En seker ‘n mens of twee wat ek uit my hart of lewe moet skryf, maar nie wil nie.

Die pen word nou meesal vervang deur die sleutelbord.
Dis vinniger en makliker en mens stuur jou woorde die wêreld in.
Maar is dit beter?

Ek vind dit steeds ‘n saligheid om my eie woorde in my eie handskrif te sien. Ek skryf nou nie juis mooi nie, maar dan weet ek dit myne. My woorde. My handskrif. En ek het moeite gemaak om my met jou te deel om hierdie manier. Ek wonder wie waardeer dit nog?
Ek doen.
Ek verlang na briewe en poskaarte.
Amper nog erger nou in hierdie tyd van ‘n pandemie.
Hoe lekker sou dit nie gewees het om te kan briewe en / of poskaarte skryf en stuur en weet dit gaan uitkom by die persoon aan wie dit gerig is nie.
Dit doen nie.
Covid19 word blameer.
Asof die posdiens nie al voor dit onwel was nie.

Ek dink ek gaan vanaand weer ‘n bietjie my penne uithaal en ‘n stuk pampier be-skryf. Klink lekker. Klink heilsaam. Ek wonder aan wie gaan ek skryf. Of vir wie wat dit moontlik nooit gaan sien nie. Ek voel altyd so asof ek my siel onbloot op ‘n stuk papier. Soms doen ek dit. Dan brand ek die stuk papier uit. En ek kyk hoe dit brand wetend dat die persoon aan wie dit gerig is dit nooit gaan sien nie. Soms hartseer. Soms verligting. Die pen … is soms ‘n swaard.

Laat ek eers die saak amen roep. Genoeg van my nostalgie oor penne. Laat ek eerder gaan optel en skryf!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s