4:44 VM: Werkloosheid

Nee, dit het niks met die Covid 19 pandemie te doen nie. Eerder met my mentaliteit.

Toe ek in 2015 wegloop van ‘n werk wat my baie slaap laat verloor het, geweldige stres laat beleef het en my karakter bevraagteken het, was ek verlig. Vrede het oor my gespoel soos kabbelende, spelerige brandertjies van ‘n wye, rotslose strand. In die begin.

Later het die verlies ingesink. Die wete dat ek nie weer die tipe interaksies gaan hê nie en dat ek nie meer uitgedaag gaan word deur studente soos in daardie tyd nie. Dit het lank gevat voor ek besef het dat ek treur.

Die jaar daarna het ek gaan werk in ‘n ander provinsie. Dit was ‘n belewenis van ‘n ander kaliber. Interessant, leersaam, kleurvol. Ek het baie geleer, baie mense ontmoet, goeie verhoudings aangeknoop en liefde ‘verloor’. En toe bedank ek vir ‘n geleentheid of twee wat ek behoorlik opgefoes het omdat ek deur ‘n tyd gegaan het van donkerte. Die swart hond het toe vir ‘n baie lang ruk kon kuier. Hy was groter as ek en het bo-op my gelê soos ‘n swaarte wat ek nie kon afskuif nie. Ek kon omtrent nie asem haal nie. My siel was gekneus. My hart was seer. Ek was ‘n bondel trane en teleurstelling. Ek het nie geweet wat aangaan nie.

Smeltkroes. Ek is oppad hiernatoe. Die vuur is warm. Vuurwarm. Onsuiwerhede word weggebrand. Dis ongemaklik tot seer. Die vals val weg. Die maskers is daar nie meer plek voor nie. As jy nie my regte gesig kan sien nie, wat is die punt?

Ek besou nie myself as werkloos nie. Maar in my kop is ek. Dit lyk ek kry nie rigting nie. So asof die rigting wat ek na kyk nie is waar ek moet wees nie. Dit werk net nie uit nie. En toe, pandemie. Net toe ek dink ek maak vordering.

Nou sit ek hier. Ek het ‘n projek gekry en dis ook nou weg. Ek moet my rol daarin aanvaar en verantwoordbaar wees vir die teleurstelling in myself en van ander. Die afgelope paar weke was stormsterkrofalles. Dit het sekerlik nie so gelyk nie. Dit lyk nooit so nie. My grootste probleem. Blykbaar lyk ek nooit asof ek sukkel / hulp nodig het nie. En dit beteken dat ek nie sukkel nie of dat ek nie hulp nodig het nie … Interessant. Ek verstaan hoekom. Ek het eers nie, ek wou skree. Ek het geleer, sê net. Dis al. Jou hartsmense sal reageer. Soos jy op hulle reageer.

Dis nou al jaar 4. Ek is nog heeltyd besig. Met nie-werk. Ek het so baie geleer in die tyd. Soveel mense ontmoet en soveel dinge ondervind. Ek is dankbaar. Ek is geseënd. Ek het ‘n familie wat my net opgeraap het en ondersteun. Steeds. Superheld ouers. Vlakke. Nooit gedink ek gaan dit sê en bedoel op die manier wat ek dit bedoel nie. Dankbaar.

My werkloosheid het my toegelaat om my Ouma se laaste ‘road trip’ met haar te doen, in my motor, voor sy heengegaan het. Dit het toegelaat dat ek kon instaan vir ‘n pel en help op die gesondraak pad. Ek kon in die tyd myself beter leer ken, dieper delf in my geloof. Ek het geleer om met min geld oor die weg te kom en my kreatiwiteit verken.

Ek het my waarde bevraagteken. Orals. Wat dra ek by? Wat het ek om te bring? Wie is ek? Het my posisies my definieer? Het ek waardeloos gevoel omdat ek nie ‘werk’ gehad het nie?

Voel ek nog steeds waardeloos omdat ek nie werk het nie?
Voel ek steeds asof ek nie bydra nie?
Voel ek nog steeds die leemte?

Nee.

Waarde.
‘n Hele ander gesprek.
Ken jou waarde. Dis wat ek geleer het. Wat ek bring is waardevol. Ek is waardevol. Die niks wat ek voel is nie verteenwoordigend van die inhoud van my nie.

Ek werk nog heeltyd. Dis die liefde soort werk. Die’s wat ek voorheen dankies voor verwag het, maar nie meer nie. Ek doen wat ek kan want ek wil. Sommige mense weet nie hoe om dankie te sê nie. Verwagtinge skep skep die geleentheid vir teleurstelling. Asseblief tog nie.

En nou? Nou sit ek hier. En ek kyk na die woorde wat ek geskryf het. En ek weet dis ‘n seisoen wat binnekort ten einde gaan loop want ek lyster na die lesse. Dis nie maklike lesse nie. Dit brand. Dis nodig. Dis noodsaaklik. Dis insiggewend.

Lewegewend.

Image by Niek Verlaan from Pixabay

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s