Jare gelede het my senior vir my gesê ek is te besig om ‘n man te kry.
Die sêer is getroud en die ouer van kinders.
Dis 10+ jaar later. Hier sit ek en skryf. Steeds enkel. Steeds ‘n vol program.
Die oorspronklike stelling het my redelik tot hoog omgekrap gehad. Vir verskeie redes. Eintlik was ek meer iets soos ‘die hel in’ … want wat weet jy wan enkel wees en wat dit behels?
En ja, my program was daai tyd vol. Ek geniet ‘n vol lewe. Ek gebruik my tyd om dinge te dinge wat ek geniet en waarvoor ek kapasiteit het. Ook te midde van die grendeltydperk.
Rus is nou deel van my vol lewe.
Toe die stelling gemaak was, het ek ook baie goed gedoen wat ek nie so baie geniet het nie … dit het meer te doen gehad met mens tevrede stel en hou … dit was jaaaaaaare gelede. Die skip het geseil.
Vroeër die jaar sê iemand vir my die Here miskien wil hê dat die volgende persoon in hul lewe iemand rustig moet wees – voorbeeld was genoem. Per implikasie, sonder om dit blatant te noem, is ek nie rustig nie / te besig.
Weer is ek ‘die hel in’. Vir verskeie redes. Onder andere … ek ‘like’ die mens, so dit maak my hart bietjie pyn … weet jy hoekom ek besig is … wat weet jy nou eintlik …
(Ek hou van die dinkwerke van my grysstof.)
Nie dat ek nodig het om enigsins enige iets aan enige iemand te verduidelik nie, maar ek wil dit nou neerpen sodat dit net uit my kop is.
En die volgende is ekke.
Wanneer ek gekies word, herprioritiseer ek. Ek laat sommige van my dinge gaan en sommige dinge bly behoue. Dinge kom by, sames meer as apartes. Die belangrikste vir my is dat ek weet ek is gekies en hy weet ek kies hom … in alles – situasies en besluite … bou die verhouding, groei.
‘n Plek waar ek kan rustig wees.
‘n Plek waar ek kan rus.
‘n Plek waar ek dieprustig kan asem haal.
Op hierdie oomblik haal ek wel dieprustig asem …
Op my eie. In my eie spasie. Met my hartsmense en my gemakgoeters.
En dis vryheid.
Vir my.
Nou.
Te midde van grendel …
Aswanneer ek wel miskienmoontlik verlief raak en dis ‘n kiesbesigheid … weet dan tog … dat jy … belangrik sal wees. En dat my besige program dan tog vol rustig met jou sal wees.
Tot dan … laat ek rustig JUIG in my vol program.
Daar is ‘n tyd en plek vir alles en almal.
Prioriteite.
‘n Glimlag speel om my mondhoeke.
Rustigheid omvou my.
Vrede.
Ek wil sit onder die boompie,
ver kyk,
lekker lees
en diep asem haal …
skryf,
droom,
en sommer net wees …
Of miskien die langpad bietjie aanvat …
of in ‘n snoesige kothuis met ‘n vuurherd, lekker banke en sagte komberse ontspan …
Sjoe.
